03 Augustus 2001

PW Buys (1923-1999)


Gebore en getoë

Pieter Willem Buys is op 15 Oktober 1923 in Germiston in die destydse Transvaal (vandag Gauteng) gebore. Sy ouers was Karoomense. Sy moeder was ’n nooi Du Plessis van Philippolis en sy vader ’n Steynsburger. Hulle het na ’n plaas tussen Brakpan en Heidelberg verhuis toe Pieter nog ’n jong seun was.

Pieter het in Brakpan en Bronkhorstspruit skoolgegaan en in Bronkhorstspruit gematrikuleer.

Verdere studie en werk

Pieter het sy naskoolse studie aan die Potchefstroomse Universiteitskollege in 1941 begin – die moeilike jare van die Tweede Wêreldoorlog. Hy het die grade BA, BD, ThM en ThD (in 1970) aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (vandag die Noordwes-Universiteit) behaal. Hy was met Lulu getroud; sy is in 2001 oorlede. Die egpaar het vyf kinders gehad: twee seuns, Gerrit en Johan, en drie dogters, Mietsie, Susan en Louise.

Vanaf 1948 tot 1950 is Pieter predikant in die Gereformeerde Kerk op Theunissen in die Vrystaat. Saam met die gemeente het hy die groot ontwikkeling op die Vrystaatse goudvelde meegemaak.

In 1950 is hy na Kroonstad (ook in die Vrystaat) en was vanaf 1953 tot 1966 leraar van die Gereformeerde Gemeente Potchefstroom. Tydens sy bediening daar is ’n nuwe kerkgebou in gebruik geneem. Hy het in 1961 drie maande lank in Nederland gewoon, waar hy aan sy doktorale studie gewerk het.

In 1966 is hy na die Noordbrug Gemeente in Potchefstroom, waar hy predikant was tot 1973.

Vanaf 1973 tot 1988 was hy professor in die etiek en apologetiek aan die Teologiese Skool in Potchefstroom en aan die PU vir CHO, waarna hy rektor van die Teologiese Skool in Potchefstroom geword het, tot 1985. Vanaf 1981 tot sy aftrede in 1988 was hy hoof van die Departement Dogmatologiese Vakke.

In 1979 het Buys, in opdrag van die Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerk, die teks van Totius se Psalmberymings hersien. Hy het die teks van die Totiusberymings so ver as moontlik behou en slegs die ou Nederlandse vorme met nuwer Afrikaanse woorde vervang. Hierdie hersiening wat hy pas voor sy dood voltooi het, moet nie met die nuwe Psalmomdigtings verwar word nie.

Ná sy emeritering in 1988 het hy met pastorale versorging van bejaardes in drie Potchefstroomse aftreeoorde begin, ’n liefdestaak wat hy verrig het tot sy afsterwe in 1999.

’n Bundel wetenskaplike opstelle word hom aangebied met sy emeritaat getiteld Waar die paaie saamwoon. Bekende teoloë was studente van Buys, onder andere Fika van Rensburg, Herrie van Rooy, Paul de Bruyn, Koos Vorster en PP Kruger.

Pieter het deur die jare talle artikels in wetenskaplike en kerklike tydskrifte en boeke gepubliseer. Hy was ook vir baie jare redakteur van die Christelike kinderblad Slingervel. Benewens wetenskaplike artikels deur hom het ook van sy verse van tyd tot tyd in Tydskrif vir Letterkunde en in Stiebeuel verskyn.

Pieter het in 1977 met die digbundel Pleroma gedebuteer. Die titelwoord is ’n godsdienstige term wat beteken dat God alomteenwoordig is in die skepping.

Die gedigte in die bundel is in sewe afdelings (sewe is die Bybelse volledigheidsgetal) tuisgebring en dit wil tesaam duidelik maak hóé God alomteenwoordig is in Sy skepping. En dan tref dit ons dat ook Buys se poësie ons uiteindelik uitbring by die organiese gedagte wat ons teëkom by ander digters, soos Van Wyk Louw, DJ Opperman, Herman Gorter en Totius, vir wie die organiese samehang van dinge in God hulle oorsprong het, soos ook vir Buys. Ons het hier nie met invloed te make nie, maar met diepe verwantskap, volgens die resensent in Junie 1978 se Tydskrif vir Geesteswetenskappe.

“Buys se organiese, pleromatiese kyk op mens en wêreld, mens en skepping, is wesentlik digterlik en ’n vormkrag. Vanweë die pleromatiese samehang van dinge kan uiterstes met mekaar saamgaan, soos die heerlike en liriese ‘Amelita Galli-Curci’ en die pragtige singende ‘Meidjie’ wat spontaan saamhoort met die vroue in pyn in die afdeling ‘Vroue’. Wat boei in Pleroma is wat ons kan noem die veranderlike perspektief, maar die konstante resultaat. (...)

“Die lewensvolheid en egtheid van die bundel lê vervolgens daarin dat ook die onsekerhede van die mens, sy ‘gemis’, sy pyn en verdwaaldheid in ’n soms ontgrensde wêreld (‘My plaas se grens’) in hierdie gedigte onder woorde gebring is. En ook in die geval van die pyn byvoorbeeld is gewone daaglikse dinge, die ‘voorhande’ dinge, weer eens die vertrekpunt van ’n ervaring wat ver uitreik, soos in die merkwaardige ‘Kleiosse’, waar die seun se skurwe winterwond, wat ontstaan het omdat hy kleiosse gemaak het, uitgroei tot die pyn van die mens. (...)

“Oor die gaafheid van die vers in Pleroma hoef mens nie te twyfel nie. Dié is daar. Gaan luister maar na die gang van die ritme in die slot van ‘Tornado’ of die delikate klank en ritme in ‘Meidjie’. Met groot gemak is die verse geskryf in Pleroma wat so ’n vol werklikheid dra van groot en klein, naby en oneindig verre dinge, en dit is juis in hierdie laaste, groter strukture dat Buys uitmunt.”

Pieter se tweede bundel, Wit korbeel, is in 1987, presies tien jaar na Pleroma, gepubliseer. Jacques van der Elst sê hy was verras deur die verskeidenheid temas en motiewe in die bundel, aangesien ’n mens sou verwag dat dit uitsluitlik religieuse gedigte sou bevat, komende van ’n teoloog. Die bundel het wel ’n religieuse ondertoon, maar die poësie steek nie daarin vas nie.

Volgens Van der Elst reik baie van die gedigte uit na die bestaan van die mens as fyn beskouer van die natuur en deelnemer aan die alledaagse dog uiteenlopende ruimtes: Tomstraat in Potchefstroom, die Sinoiagrot in Zimbabwe, die stadsbeeld van Chicago, die Komiteekamer, Pafuri by die groot Luvuvhu, die studeerkamer met die staander van sy  leeslamp.

“Religieuse poësie het soms ’n inherente gestremdheid – enkele gedigte is nie heeltemal vry nie – omdat daarin dikwels te veel en te persoonlik bely en getuig word, meestal met die doel om te evangeliseer tot aan aanvaarding van die heilsgebeure en die geestelike verlossing van die mens. Hierdie oorreding tot aanvaarding geskied soms ten koste van estetiese waarde en oorspronklikheid van segging.”

Volgens Van der Elst verken die bundel ’n verskeidenheid temas: (a) die wêreld as “vindplek” van die poësie; (b) die vraag na die waarom van die bestaan van die gebrekkige en invalide mens; (c) die besinning oor die sterflikheid van die mens en terminale siektes met ’n ironiese verwysing na die onuitroeibaarheid (onsterflikheid?) van die kankersel; (d) die predikant en die resepsie van sy preek met die besonder vindingryke beeld van die stom parkeermeter.

Van der Elst beskou Wit korbeel as ’n besonder leesbare bundel vir sowel die akademiese leser as die gewone liefhebber van poësie. “Tussen die vele debute van ‘angry young men’ is dit ’n oase van rypheid en besinning, die produk van ’n digter met ’n wye lewenservaring wat nie grootdoenerig en eksperimenteel verwoord word nie. Daarom moet ’n mens nie in hierdie bundel eksperiment, baanbrekende rewolusionêre styl en verstegniek soek nie. Dit beteken nie die bundel is kleurloos nie. Inteendeel, dit bevat baie verrassende woordspelings en woordvondste, verryk met boeiende paradokse en klankwerkings.”

Volgens die Verklarende Afrikaanse Woordeboek is ’n korbeel die “uitstekende stuk in ’n muur waarop ’n balk rus, kraagsteen”. En die vers wat volgens Joan Hambidge die titel verklaar, is die slotvers in afdeling sewe, “Mag ek?” (bladsy 69):
Mag ek die houtkosyne wees
die drumpel waar u voet op trap
– In elke spoor ’n druppel bloed?

Mag ek die dak wees oor u kop,
die kraagsteen wat die balke stut,
die binnekamer van u hut?
Vir Hambidge was die bundel ’n aangename verrassing waarvan die meeste verse lesers sal boei. Daar is egter verse wat soms woordtempering kort, maar die mooiste verse in hierdie verdienstelike bundel vergoed vir die insinkings.

Vir Daniel Hugo was Wit korbeel een van die onderskatte bundels van 1987. Die strammerige formele verse van Pleroma het in hierdie tweede bundel plek gemaak vir beweeglike en klankryke verse. Hy het veel plesier gehad aan die talle sjarmante gedigte van hierdie ondogmatiese professor. Hy meen dat Wit korbeel vir die leser wat verslae staan voor die hermetiese en/of akademiese aard van die destydse Afrikaanse poësie, ’n aangename verrassing sal wees. Hy haal die gedig “Rooivink” as prikkel aan:
Die rooivink gooi
’n rooi vonk in die riet,
’n vuurkool in die geil kanet.
Hy vlieg op uit die plaat palmiet.
Sy vlerkies sprinkel splinters lig.
Hy fladder vlamrooi in die lug
en val ’n gloeistreep na sy nes
van droë gras.
Hy speel met vuur
Dié voël.
Straks steek hy nog die wêreld aan die brand.
Elf jaar later, in 1998, is Pieter se derde (en laaste) bundel, Van sigbare en onsigbare dinge, gepubliseer, ter viering van sy 75ste verjaardag.

Joan Hambidge meen dat ’n letterkunde ook sy kleiner stemme nodig het, digters wat dikwels nie op die voorgrond staan nie, maar wat ’n onthoubare klein gedig skryf of gewoon net deel vorm van die hele tapisserie van ’n digkuns. PW Buys is so ’n digter. Hy is ’n hedendaagse Totius, ’n digter wie se gedigte nog altyd vir Hambidge beïndruk het vanweë hul eenvoud dog vormvastheid. Dit is gedigte wat handel oor die mens se aardse bestaan en metafisiese bestekopname.

Buys begryp, volgens Hambidge, die groot kuns om steeds oor abstrakte sake soos die dood, siekte, die metafisika en dies meer konkrete gedigte te maak. Dit is ook ’n bundel wat getuig van baie jare se leef en nadink. Daar is ’n skerp oog op die menslike lyding, op siekte (die slopende ervaring van kanker), oudword en die dood. Ook kan die onbetwiste invloed van TT Cloete op ’n tegniese vlak gesien word: die rymbeheer in ’n gedig soos “Die dowwe lamppit” en ook die enumerasie van die gewone en die sublieme. Buys se gedigte spreek ’n mens aan omdat daar niks vernaams of pronkend intellektueel aan hulle is nie. Tog getuig die gedigte van tegniese vaardigheid en van ’n besliste nadink oor kwessies soos vorm-tug. ’n Mens sien hier die hand van ’n wyse, ou man wat ook met sorg rekenskap gee van die funksie van die poësie.

Ook die nederigheid van die skryf van poësie word geplaas teenoor die almagtigheid van die Goddelike, soos in “Suikerbekkies”:
Groen suikerbekkies in die son
vol soet geluk oor hom
onnodig om hom neer te skryf,
hy is by voorbaat ’n gedig:
vuurrooi, bitter aalwynblom!
Die digter wil kennelik gemeet word aan die Rilke-uitspraak dat gedigte maar min werd is as dit vroeg in die lewe geskryf word. (Dit is natuurlik nie altyd waar nie, skryf Hambidge. ’n Mens dink hier byvoorbeeld aan Rimbaud en Verlaine, en ons eie Antjie Krog en Theunis Engelbrecht.) Die wins van ouer poësie is natuurlik dat dit ontdaan is van jonger sentimente.

Soms is die gedigte steurend en aangrypend, soos in die behandeling van kanker; ander kere is dit klein waarnemings, maar tog gevoelig, soos “Naamloos” toon:

Twee duiwe het van die nes af opgevlie –
die een het teruggekom, die ander nie.
Twee bome het jare saamgegroei –
dié lente staan net een in bloei.

Die digter skryf beeldend, en deur sy goedgekose beelde dra hy sy boodskap oor sonder dat dit prekerig raak.

Vir Jan Swanepoel is die bundeltitel, Van sigbare en onsigbare dinge, veelseggend, veral as dit saamgelees word met die twee sitate vooraf. Enersyds word daar aan die hand van die sitaat uit 2 Korinthiërs 4:18 gemik op ’n teenstelling: “die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig”. Andersyds is daar die aanhaling uit die geskrifte van die skilder Paul Klee, wat stel dat ’n skildery nie die sigbare hoef te weerspieël nie, maar dat dit die onsigbare sigbaar moet maak. Deur die kuns, so kan ’n mens aflei, word die onsienlike sienlik. Die bundel wil, blykens sy titel, rekening hou met sowel die sigbare as die onsigbare dinge. In die poësie word die tydelike sigbaar, en ten spyte van die tydelikheid in ’n bepaalde sin duursaam.

Vir Swanepoel is hierdie bundel besonder visueel en ouditief ryk. Reeds uit die openingsgedig “Groenspreeu” blyk die toespitsing op die poësie se paradoksale daarvan, duidelik. Hierdie gedig is ’n voorbeeld van die beste verse in die bundel. Daar is ’n sekere speelsheid te bemerk, ’n beweeglikheid in die versbou, en klankmatig is dit heg gekonstrueer.

Die blywendste indruk wat Van sigbare en onsigbare dinge op Swanepoel gemaak het, was in die verwoording van lyding en van herinneringe. Dat dit na aan die hart van die bundel lê, is duidelik uit die digter se vertaling van ’n uitspraak van die Duitse digter Rainer Maria Rilke wat juis die aandag wil vestig op al die dinge wat nodig is om ’n goeie vers te maak, en op die rypheid wat dit vereis. Hiervolgens is verse meer as gevoel en as herinnerings; dit is ervarings en herinnerings wat intiem een geword het met die digter en dan woord word en uit die digter uitgaan.

Van sigbare en onsigbare dinge is ’n bundel waarin uiteenlopende dinge saamgedig word. Daar word gedig oor die kleine en die magtige, oor die tydelike en die ewige, oor sigbare en onsigbare dinge. Die stemming verspring van lig tot donker, van spel tot dodelike erns, en dan weer terug. Dit is ’n lieflike bundel wat herlees en herlees kan word.

AP Grové het in Beeld geskryf dat ‘n mens deur die tematiese verkenning van die bundel iets van die skrywer te wete kan kom: sy jeug, sy intellektuele belangstellings, sy werk as predikant en professor in die teologie, en later sy ervaring as pastorale begeleier van oues, siekes en sterwendes.

As ’n mens egter tot die essensie van die bundel wil deurdring, moet daar gelet word op die bindende verwantskap tussen gedigte van uiteenlopende aard, ’n verwantskap wat deur die genoemde “rubrieke” sny en so die essensiële eenheid van die bundel bevestig. Die besondere wyse waarop Buys die hede dwing om telkens op die wyse van die poësie ’n bepaalde stuk verlede na die oppervlak te dwing, maak hierdie bundel ’n boeiende leeservaring en ’n waardevolle bydrae.

Pieter Willem Buys is op 27 November 1999 na ’n kort siekbed oorlede. Ná sy vrou Lulu se dood het sy kinders sy literêre nalatenskap aan die Nasionale Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) in Bloemfontein bemaak.

Huldeblyke
  • Leana Lategan, Museumgeesteswetenskaplike by Naln: “As jy gedigte soek” (lui die titel van ’n openingsvers uit sy bundel Wit korbeel), sal jy dit oral kry, sê die digter: dalk sit jóú gedig “soos die gemmerkat/ skuins voor oom Willie Steyn se huis”, of skuil dit “in ’n wateremmer/ in Huis en Tuin se rakke”; dis dalk “sommer oop en bloot/ soos ’n studentesoen/ voor Volkskas op die stoep”! Maar vir Buys was “Tomstraat ... steeds die beste plek ... Dáár’s een om elke hoek”: die lang eikelaning met bome wat oor jou kop tóémaak was vir dié skrywer ’n misterieuse en geliefkoosde wandelplek, en ’n stukkie straat wat hy met sy trapfiets seker alte dikwels beleef het. (Die groot gesinsmotor het trouens as vervoermiddel by hom min aftrek gekry, want die fiets was sy ryding, waarnatoe die reis ook mog gaan!)

    Buys se verse is altyd religieus gerig, maar dit sou ’n growwe verskraling wees om hom as ’n religieuse digter te tipeer. Daarvoor reik sy kreatiewe vermoëns te wyd: By sy studeerkamer onder die leeslamp met die staander van “heuninggeel olien”, die hout wat deur swaarkry “marmerhard en mooi” geword het, het die digter ’n uitsig gehad oor die kronkelende stukkie Mooirivier wat teen die huis in Van Rooystraat 18 verbyvloei. Hier sien hy die “nege wilgerboompies wat ek self geplant het”; “my groen plataan” (Inventaris), en al die voëls wat by die waterbak vertoef om water te drink of te bad. Maar hy bemerk ook die korrel sand, neerslag en laaste rusplek van die rots wat deur vulkane “gloeiend uit/ die ingewande van die aarde/ opgespuit” en met verloop van millenniums fyngemaal is: “’n oomblik/ en/ ’n ewigheid”.

    Sy verse is klein duette van klank en kleur, altyd ingebed in die wonder van ’n Groter Hand wat alles vashou, skik en kantel. Of dit die vuurkool-streep van die rooivink is, of die “trom wat in die diepte roffel”, die somberheid van die aftree-oord en hospitaal waar hy siekes en sterwendes besoek (terwyl hy sélf “bewe/ van angs/ vir die lewe”) – alles skryf hy tot gravures vir dié wat die lees-reis wil onderneem.

    Buys se drie digbundels (die somtotaal van sy gepubliseerde oeuvre) het beskeie begin by Pleroma, uitgegee in 1977, is opgevolg met Wit korbeel (Perskor, 1987) en afgesluit met Van sigbare en onsigbare dinge (Tafelberg, 1998). Die neerslag van ’n hele lewe is literêr hierin vervat: Predikant, dosent, filosoof, berader, gesinsmens, natuurliefhebber, toeris. Nie sonder rede het Afrikaanse literêre kritici Buys se bundels deurgaans met positiewe kritiek begroet nie: Die skrywer se integriteit as mens en as kreatiewe vakman maak van sy verse “skuilplekkë van bos en veld en skemerlig”.

    Op 15 Oktober 2003 was dit Buys se 80ste verjaardagherdenking, en “Groenspreeu” (uit sy laaste bundel) sê dit als:
  • Jy kan die groenspreeu nie vertrou,
    hy lieg die aarde pimpelblou.
    Hy fluit die hemel lowergroen,
    paljas 'n pruim tot perlemoen.
    Hy tierelier die suring soet,
    die katjiepiering swart soos roet.
    Hy vonkel, konkel,
    toor die son tot 'n ranonkelrooi ballon.
    Die groenspreeu is 'n kunstenaar –
    soms lieg hy selfs die waarheid waar.
TT Cloete: As ’n mens aan PW Buys terugdink, vra jy jouself af: hoeveel lewens kan een mens lewe? Buys was meer as een mens. Van roeping was hy teoloog, eers as predikant en later as akademikus. Hy was professor in etiek en apologetiek aan die teologiese skool van die Potchefstroomse Universiteit. Diep in sy hart was hy egter ook ’n digter, en hy was ook baie lief vir die musiek en die skilderkuns. In daardie bekende bloemlesing wat DJ Opperman baie jare gelede (1946) saamgestel het uit gedigte wat in Standpunte verskyn het, is destyds al gedigte van Buys opgeneem wat hy as student geskryf het. Opperman het sy talent dadelik herken. Tog het Buys jare later eers gedebuteer. Hy het drie digbundels gepubliseer. In 1977 het hy gedebuteer met Pleroma, net mooi tien jaar later volg Die wit korbeel en nog tien jaar daarna sy derde en laaste bundel, Van sigbare en onsigbare dinge. Van hom geld wat die Nederlandse digter JC Bloem van homself gesê het: wat hy aan omvang ingeboet het deur sy beskeidenheid, het hy deur suiwerheid vergoed. Buys was ’n werklik beskeie mens en nie opgewasse teen die onaangenaamhede wat die blootstelling van die literatuur altyd maar meebring nie. Daarom het dit veel oortuigingswerk gekos om hom te oorreed om in 1977 te debuteer, beskroom en half weggesteek. Die uitgewers van sy eerste twee bundels bestaan selfs nie meer vandag nie. Hy was ’n sagte mens, sag soos die swartkomyn waaroor hy in sy laaste bundel skryf: “swartkomyn word met ’n sagte stok geslaan as dit geoes word”. In sy laaste bundel, wat baie goed ontvang is, skryf hy oor ’n oorlede jeugvriend wat die digkuns diep in hom gehad het. Daardie gedig is vandag op Buys self van toepassing: vlamhelder leef hy voort, hy “wat die wonder van die skoonheid/ suiwer soos ’n kind/ beleef het lewenslank”. Hy het, toe hy al professor in die teologie was, vir die avontuur vanaf die eerste jaar tot by die honneursklasse in algemene literatuurwetenskap geloop. Hy het soos ’n avontuurlustige mens met ’n gretige gesig daar gesit. Wat hy vir ons nagelaat het, is skoon, suiwer liriek en gedigte van ’n beminlike menslikheid.
  • Prof PJ de Bruyn in Die Kerkblad van 9 Februarie 2000: PW Buys was Christen met sy hele wese. Hy was van sy studentedae af ’n harde, toegewyde werker. Hy het so hard gewerk dat Totius hom by geleentheid gewaarsku het dat sy kragte nie sal hou as hy so voortgaan nie. Wat veral opvallend was, was sy nederigheid en beskeidenheid.

    As predikant was hy ’n besonder begaafde prediker wat die Woord van God in sy diep en indringende betekenis kon verklaar en oopmaak en dit dan so toepas dat dit ’n mens werklik aangespreek het. Toe daar by geleentheid aan Pieter Buys gevra is hoe hy ’n preek maak, was sy beskeie antwoord: “Op my knieë.”

    Pieter Buys was ook vir geruime tyd lid van en voorsitter van die Deputate vir Kerklike Publikasies en in dié verband het hy waardevolle diens gelewer. Talle artikels oor kerklike sake het in Die Kerkblad en in Die Gereformeerde Vroueblad verskyn. Sy grootste bydrae in dié verband was egter sy redakteurskap van 34 jaar van Slingervel, die Christelike kinderblad. Hy het die gawe gehad om op ’n besondere wyse met die jeug te gesels en daarom het hy Slingervel ook uitgebou. Die Sinode van 1997 het dan ook heel gepas ’n oorkonde aan hom oorhandig vir “sy waardevolle en onbaatsugtige werk aan Slingervel”.

    Behalwe vir die feit dat hy ’n bekwame en toegewyde leermeester was, was sy groot waarde as akademikus veral geleë in die leiding wat hy aan nagraadse studente gegee het. PW Buys was as persoon, soos Totius, klein van postuur, maar ’n man met ’n groot gees en wonderlike gawes en talente wat hy toegewyd en met oorgawe in die diens van die Here gebruik het.
  • TT Cloete oor PW Buys se poësie: In stilte en afsondering het Buys sy skryfwerk gedoen, en dit goed gedoen, sonder aanmatiging, sonder pretensies, sonder aandagsoekery, sonder enige eise wat hy aan die leser gestel het. Buys se werk is ryk aan taal. Hy benut woorde uit ons woordeskat wat grootliks onbenut in woordeboeke lê.
  • Dr Neels Smit: Ons dank God vir PW Buys. Nederige mens, ’n kinderlike gelowige. Geroepe teoloog wat eintlik niks graagter as predikant wou wees nie, en nooit kon ophou om predikant te wees nie. Elf jaar na sy emeritaat het hy op 76, in die laaste tyd vermoeid en belas met sy toenemende siekte wat hy sover moontlik vir homself gehou het, voortgewerk en die volle bediening van Huis Eikelaan behartig. In ’n bepaalde sin was hy ’n gevangene van die bediening, hy móés eenvoudig voortwerk, sy sin vir roeping het hom gedryf. Hy het na hierdie werk van hom in Huis Eikelaan met ’n skerp sin vir ironie gekyk. Hy het dit “romantiek van die pastoraat” genoem. Hy was prediker by uitnemendheid: ’n man wat uit die terloopse teks nuwe wêrelde kon optower, verrassende perspektiewe kon laat inslaan; maar ook iemand wat kon lag, met die onhebbelikheid dat hy so aan die lag kon gaan vir die komiese dat hy moeilik tot bedaring kon kom. Humormens, wat met fyn selfspot gedurende sy laaste nag in die intensiewe eenheid, met talle pypies en monitors aan hom verbind, tussen asemstote deur nog kon sê: “Ek lyk nou nes Sasol!”

    Ook gesinsman, vriend en raadgewer vir baie, veelsydige denker, skerpsinnige waarnemer. Natuurliefhebber wat God se groot liturgie in die natuur kon bemerk. ’n Man in wie die digter uit elke hoek van sy hart geloer het. En die man wat wonder, die man wat ly, veral vanweë ander se lyding, ander se droefheid. Die man in wie die kind nooit gesterf het nie, want hy was kind van God. Sy diepste vreugde het hy in die nabyheid van sy Vader gevind, berustend, bereidwillig vir God:
    Nou is die vrede diep en vol,
    Die leed van jare weggesink
    Soos waterkuile in valleie
    Wanneer die aand daar rooi oor blink.
                   
Aanhalings uit enkele gedigte van PW Buys
  •  Tiptol
...
Kletsnat hol
hy na die plas se kant,
hy stryk
sy veertjies met sy snawel glad.
Heilig en spieëlsuiwer blink
sy omgekeerde beeldjie in die watervlak.

...
Finaal bekeer
begin hy luidkeels bid en roep
in tongetaal.

’n Halfuur later steel hy weer
een van my adamsvye.

  • Oor sy werk by Huis Eikelaan
’n Ligte werk wat ’n emeritus
teen die verveling van die oudag
sal beskerm?

Nou tien jaar al
sprei ek my pastorale vlerk
beskermend oor hul uit
en vou hul in die liefde toe
van Christus en sy kerk.

Maar, Here God, U weet,
ek hou my hart met albei hande vas
wanneer ek smôrens binnegaan
in hierdie groot
wagkamer van die dood.

  • En só beskryf hy God se groot liturgie in die groot en klein dinge van die natuur:

    Waar alles rondom so ’n helder prent
    van sy nabyheid is, is sakrament

    en werklikheid tot een saamverbind.
    En as die dag verby is en die wind

    met skemeraand die laaste lofsang speel,
    dan hef die son sy hande teen die geel

    aandhemel op en spreek nog ten besluit
    die seën oor die verlate landskap uit.

http://www.litnet.co.za/Article/pw-buys-1923-1999#bo 

(stukkende skakel: artikel nie meer by LitNet beskikbaaar nie)

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Ons besoekers kom van...

ip-location