03 Desember 1999

Buys het wonder van skoonheid beleef

T.T. Cloete


P.W. Buys is verlede Vrydagnag oorlede. As 'n mens aan hom terugdink, vra jy jouself af: hoeveel lewens kan een mens lewe? Buys was meer as een mens. Van roeping was hy teoloog, eers as predikant en later as akademikus. Hy was professor in etiek en apologetiek aan die teologiese skool van die Potchefstroomse Universiteit. Diep in sy hart was hy egter ook 'n digter, en hy was ook baie lief vir die musiek en die skilderkuns.

In daardie bekende bloemlesing wat D.J. Opperman baie jare gelede (1946) saamgestel het uit gedigte wat in Standpunte verskyn het, is destyds al gedigte van Buys opgeneem wat hy as student geskryf het. Opperman het sy talent dadelik herken. Tog het Buys jare later eers gedebuteer. Hy het drie digbundels gepubliseer. In 1977 het hy gedebuteer met Pleroma, net mooi tien jaar later volg Die wit korbeel en nog tien jaar daarna sy derde en laaste bundel, Van sigbare en onsigbare dinge.

Van hom geld wat die Nederlandse digter J.C. Bloem van homself gesê het: wat hy aan omvang ingeboet het deur sy beskeidenheid, het hy deur suiwerheid vergoed. Buys was 'n werklik beskeie mens en nie opgewasse teen die onaangenaamhede wat die blootstelling van die literatuur altyd maar meebring nie. Daarom het dit veel oortuigingswerk gekos om hom te oorreed om in 1977 te debuteer, beskroom en half weggesteek. Die uitgewers van sy eerste twee bundels bestaan selfs nie meer vandag nie.

Hy was 'n sagte mens, sag soos die swartkomyn waaroor hy in sy laaste bundel skryf: swartkomyn word met 'n sagte stok geslaan as dit geoes word. In sy laaste bundel, wat baie goed ontvang is, skryf hy oor 'n oorlede jeugvriend wat die digkuns diep in hom gehad het. Daardie gedig is vandag op Buys self van toepassing: vlamhelder leef hy voort, hy ``wat die wonder van die skoonheid/ suiwer soos 'n kind/ beleef het lewenslank''. Hy het, toe hy al professor in die teologie was, vir die avontuur vanaf die eerste jaar tot by die honneurs klasse in algemene literatuurwetenskap geloop. Hy het soos 'n avontuurlustige mens met 'n gretige gesig daar gesit. Wat hy vir ons nagelaat het, is skoon, suiwer liriek en gedigte van 'n beminlike menslikheid. 


http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/1999/12/03/8/2.html

14 Februarie 1999

Die sigbare hou altyd iets van die onsigbare in

Deur LUCAS MALAN
VAN SIGBARE EN ONSIGBARE DINGE

P.W. Buys

Tafelberg
R59,95 

DIT is nogal opvallend hoe klein die aantal Afrikaanse digters is by wie se werk 'n mens duidelik die stempel "religieuse digter'' sal plaas. 

Onder hulle tel die welbekende Totius seker eerste, gevolg deur mense soos W.E.G. Louw, Olga Kirsch, Ina Rousseau, Sheila Cussons, I.L. de Villiers, Lina Spies en T.T. Cloete. By die jonger geslag kan ook enkeles soos Rosa Smit en Johan Myburg gereken word. 

Elkeen van dié het 'n eie stem, en hoewel hulle nie deurgaans daarmee besig bly nie, is daar tog in hul poësie dikwels die spore van 'n religieuse instelling op die daaglikse ervaring, of is daar blyke van besinning daaroor. 

'n Minder bekende naam onder hierdie beperkte groep is dié van P.W. Buys, wat in 1973 met Pieroma gedebuteer het, en toe eers ná veertien jaar 'n tweede bundel (Wit Korbeel) gepubliseer het. Nou, tien jaar later, verskyn hierdie bundel. 
 
Volgens T.T. Cloete in Die Afrikaanse Literatuur sedert Sestig (Nasou, 1980) verwys die titel van Buys se eerste bundel na die teenwoordigheid van God in die ganse skepping. 

Dit is 'n gedagte wat ook deurlopend in Buys se tweede en derde bundel waargeneem kan word. Trouens, daar is meer as een ooreenkoms tussen sy drie digbundels wat die leser opval. 

So is daar die talle verwysings na Bybeltekste by sy gedigte, wat die spreker se persoonlike ervarings ook vir die algemene leser bevatlik maak. Daarby spreek sy verse van 'n tipies menslike verwondering oor die geestelike inhoud van natuurdinge (veral soos dit by voëls waargeneem word), asook 'n volgehoue meelewing met die lyding wat mense onderling deur siekte en ouderdom moet ervaar en verdra. 

Die titel van hierdie bundel berus op die passasie uit 2 Korintiërs 4-18 en is selfverklarend: Dit wat jy sien (die sigbare) is eintlik die teken (of metafoor) vir dit wat jy nié kan sien nie (die onsigbare). So is die boom in die gedig "Silwerbas'' met al die sigbare kleur en glans van die landskap in wese ook 'n ``helder, borriegeel gedig''. Net so word die valk of arend in die gedig "Roofvoël'' binne enkele reëls veel meer as die sigbare ding dit word iets van 'n feniks of 'n apokaliptiese Lucifer. 

En in die gedig "Uur van waarheid'' is die bedrywige fabrieksgebied wat rondom 'n begraafplaas ontstaan het, iets van 'n kosmiese wagkamer waarin dié wat weerskante daarvan werk of slaap, hunkerend wag op hul onderskeie, dubbelsinnige ``tjailatyd'' of ``opstaantyd''.

Op 'n tegniese vlak is dit ook opvallend hoe P.W. Buys meermale met herhalings of 'n inventaris van woorde wat in hul betekenis met mekaar skakel, daarin slaag om 'n gedig met verdrag op te bou tot by 'n sterk, ontploffende slot. 

Die treffendste voorbeeld hiervan is die gedig "Jy wat 'n ander leer''. Hier word iets soos twintig kwale wat veral by bejaardes voorkom, een na die ander met ritmiese variasie en 'n stygende effek van beklemming opgenoem. Dan eindig die vers met 'n krampagtige vorm van gebed: 

"Vader, U weet hoe ek bewe/ van angs/ vir die lewe.'' 

Hier (asook in ander verse soos "Voortekens'', "Onkologie'' en "Die dowwe lamppit'') demonstreer P.W. Buys dat hy 'n besondere gevoel vir die ordening van 'n taal se klank- en betekeniswaarde het.

Daarby het hy 'n fyn aanvoeling vir die menslike kondisie wat in die teken van twyfel en ondergang staan sonder om deurgaans morbied te wees. Die verse "Boereraat'' en "Tant Grietje'' is voorbeelde van 'n ligter stemming wat die bundel balanseer. 

Dit is meer as genoeg rede waarom hierdie bundel aanbeveel kan word veral by dié leser wat al self ervaar het hoe die sigbare dinge altyd iets van die onsigbare inhou. 

Dr. Malan is 'n digter.

Ons besoekers kom van...

ip-location