17 Desember 2008

Kleiosse

Die winterwind het op my hand
'n ghoen van 'n skurwet gebrand,
want ek het by die waterkant

van vroeg tot laat plaas-plaas gespeel
en uit die vleiturf swart en geel
kleiosse vir die mark geteel.

Saans het my ma die brandsiekseer
voor ek gaan slaap het, altyd weer
met ruitersalf en ghries gesmeer

en my beloof: 'n winterwond
word nooit weer heeltemal gesond
as jy bly vroetel in die grond.

Nou's daar al soveel jaar verby.
'n Merk het op my hand gebly ...
en iets wat soms nog skryn in my.

14 Desember 2008

Karoo

Berusting in die leed van eeue oordek
die grys gelaat van hierdie doodstil land;
'n silwer liglyn beef oor elke rant
sover die blinkbruin einder rondom strek:

óm vaal verdriet van lappe gannastruik,
plek-plek die bakens asblou besembos
en troppies skaap wat luidloos oor die bros
karookalk skuifel-skuifel; die son se luik

laat strale lig uit transparante kringe.
Hier vind 'n mens opnuut die sekerheid:
daar is 'n hemel vol verborge dinge
verby die grense van ons ruimte en tyd,
'n land van ver, mistieke fluisteringe
wat ons bereik vanuit die ewigheid.

Hoe kleef mens aan die plek ...

Hoe kleef mens aan die plek waar jy as kind
gewoon het! Die dorpie met sy stil rivier,
sy steil kerktorings teen die lug, en langs
die vaal stofstrate: sipres en populier.

Die rooibont koeliewinkels en die mark,
die stadsaal, koshuis en die skoolgebou,
en van die dorpsgesigte is daar veel
wat jy soos prente uit 'n boek onthou.

Die spierwit gewel van jul huis, die put,
die handpomp en die fyntuin van jou pa -
dit voel soos gister toe jy laas met groot
blikemmers groentebeddings nat moes dra.

En someraande het jy urelank
in die donker denneskadu's op die kweek
gelê en kyk hoe blink die sekelmaan
in fyn patroontjies deur die naalde breek.

My plaas se grens

Die tolbos het Augustusmaand
my plaas se heinings toegewaai,
en in die grensdraad het die wind
die bondels waaigras vasgedraai.

Daarna het uit my akkerland
- soos in die groot Depressiejaar -
die stuifsand teen die doringdraad
in bloedrooi duine opgegaar.

En magteloos moes ek aanskou
hoedat die afgemete lyn
wat ek gespan het, in die graf
van wind en sand en stof verdwyn.

Nou het ek in die woesteny
geen baken of beduidenis,
geen sekerheid, want elke grens
is deur die waaisand uitgewis.

13 Desember 2008

Lyster

Somermiddag
loom van stilte.
Tussen wortels van die stinkhout
en dooie blare van die struike
skrop die dofbruin lyster in die grond,
staan stil,
die koppie skuins
asof hy luister
waar die erdwurm wegkruip in die turf.
Hy fladder op.
Uit takkies van die tamarisk
breek hy die stilte.
Sy kroppie swel.
Hy kweel kristal
en fluit fluweel
en speel viool
en rol die rondo's uit die klein
klaviertjie in sy keel.
Dan bly hy stil.
Daar lê laventel op die lug.

07 Desember 2008

Plaatopname

Skuins teen die ashoop
tussen kronkels en spirale
ou doringdraad en pale
en plate swartgeroeste sink,
'n leë, ingeduikte trommel
en nog 'n hele spul
wanmusikale rommel
van 'n goedkoop poporkes,
blom vol en heuningsoet
die bronsgeel stuifmeelstem
van Frida Boccara.



Naamloos

Twee duiwe het van die nes af opgevlie -
die een het teruggekom, die ander nie.

Twee bome het jare saamgegroei -
die lente staan net een in bloei.

Oor Digters

"Ek weet nie hoekom party digters nie gehoor word nie, of net in die verbygaan gehoor word. Eveleen Castelyn was een van hulle; PW Buys, wat pragtige goed geskryf het, was ‘n ander een; Ina Rousseau in ‘n mate ‘n ander een; en Olga Kirsch. Ek dink dit is omdat lesers graag ikone kies, eklekties is, dan skakel hulle ander uit, hulle verarm hulleself, en die hele literatuur." - TT Cloete in gesprek met Joan Hambidge, op Litnet, 2008-05-06.

01 Desember 2008

Blyplek in Nederland

PW Buys het in 1961 drie maande lank in Nederland gewoon, waar hy aan sy doktorale studies gewerk het. Die prentjiemooi plek kan in 3D gesien word deur op die volgende skakel te kliek:

Jan Luijkenstraat 50, Amsterdam

Die blyplek was die deur direk links van die rooi bossie blomme, aan die linkerkant van die foto.

Ons besoekers kom van...

ip-location