Deur LUCAS MALAN
VAN SIGBARE EN ONSIGBARE DINGE
P.W. Buys
Tafelberg
R59,95
VAN SIGBARE EN ONSIGBARE DINGE
P.W. Buys
Tafelberg
R59,95
DIT
is nogal opvallend hoe klein die aantal Afrikaanse digters is by wie se
werk 'n mens duidelik die stempel "religieuse digter'' sal plaas.
Onder
hulle tel die welbekende Totius seker eerste, gevolg deur mense soos
W.E.G. Louw, Olga Kirsch, Ina Rousseau, Sheila Cussons, I.L. de
Villiers, Lina Spies
en T.T. Cloete. By die jonger geslag kan ook enkeles soos Rosa Smit en
Johan Myburg gereken word.
Elkeen
van dié het 'n eie stem, en hoewel hulle nie deurgaans daarmee besig
bly nie, is daar tog in hul poësie dikwels die spore van 'n religieuse
instelling
op die daaglikse ervaring, of is daar blyke van besinning daaroor.
'n
Minder bekende naam onder hierdie beperkte groep is dié van P.W. Buys,
wat in 1973 met Pieroma gedebuteer het, en toe eers ná veertien jaar 'n
tweede bundel
(Wit Korbeel) gepubliseer het. Nou, tien jaar later, verskyn hierdie
bundel.
Volgens
T.T. Cloete in Die Afrikaanse Literatuur sedert Sestig (Nasou, 1980)
verwys die titel van Buys se eerste bundel na die teenwoordigheid van
God in die
ganse skepping.
Dit
is 'n gedagte wat ook deurlopend in Buys se tweede en derde bundel
waargeneem kan word. Trouens, daar is meer as een ooreenkoms tussen sy
drie digbundels
wat die leser opval.
So
is daar die talle verwysings na Bybeltekste by sy gedigte, wat die
spreker se persoonlike ervarings ook vir die algemene leser bevatlik
maak. Daarby spreek
sy verse van 'n tipies menslike verwondering oor die geestelike inhoud
van natuurdinge (veral soos dit by voëls waargeneem word), asook 'n
volgehoue meelewing met die lyding wat mense onderling deur siekte en
ouderdom moet ervaar en verdra.
Die
titel van hierdie bundel berus op die passasie uit 2 Korintiërs 4-18 en
is selfverklarend: Dit wat jy sien (die sigbare) is eintlik die teken
(of metafoor)
vir dit wat jy nié kan sien nie (die onsigbare). So
is die boom in die gedig "Silwerbas'' met al die sigbare kleur en
glans van die landskap in wese ook 'n ``helder, borriegeel gedig''. Net
so word die valk
of arend in die gedig "Roofvoël'' binne enkele reëls veel meer as die
sigbare ding dit word iets van 'n feniks of 'n apokaliptiese Lucifer.
En
in die gedig "Uur van waarheid'' is die bedrywige fabrieksgebied wat
rondom 'n begraafplaas ontstaan het, iets van 'n kosmiese wagkamer
waarin dié wat weerskante
daarvan werk of slaap, hunkerend wag op hul onderskeie, dubbelsinnige
``tjailatyd'' of ``opstaantyd''.
Op
'n tegniese vlak is dit ook opvallend hoe P.W. Buys meermale met
herhalings of 'n inventaris van woorde wat in hul betekenis met mekaar
skakel, daarin slaag
om 'n gedig met verdrag op te bou tot by 'n sterk, ontploffende slot.
Die
treffendste voorbeeld hiervan is die gedig "Jy wat 'n ander leer''.
Hier word iets soos twintig kwale wat veral by bejaardes voorkom, een na
die ander met
ritmiese variasie en 'n stygende effek van beklemming opgenoem. Dan
eindig die vers met 'n krampagtige vorm van gebed:
"Vader, U weet hoe ek bewe/ van angs/ vir die lewe.''
Hier
(asook in ander verse soos "Voortekens'', "Onkologie'' en "Die dowwe
lamppit'') demonstreer P.W. Buys dat hy 'n besondere gevoel vir die
ordening van
'n taal se klank- en betekeniswaarde het.
Daarby het hy 'n fyn aanvoeling vir die menslike kondisie wat in die teken van twyfel en ondergang staan sonder om deurgaans morbied te wees. Die verse "Boereraat'' en "Tant Grietje'' is voorbeelde van 'n ligter stemming wat die bundel balanseer.
Dit
is meer as genoeg rede waarom hierdie bundel aanbeveel kan word veral
by dié leser wat al self ervaar het hoe die sigbare dinge altyd iets van
die onsigbare
inhou.
Dr. Malan is 'n digter.